Is of dit beter is om geld in Suid-Afrika of in die buiteland te belê?

‘n Vraag wat onlangs baie meer na vore kom,  Dit lyk dalk na ‘n geldige vraag, maar daar is baie ander vrae wat moet beantwoord word voor jy enige besluite neem rondom waar jy jou geld wil belê.

Die belangrikste vraag om te beantwoord is: hoekom belê jy die geld?

Daar is tans baie ‘kenners’ en pulikasies wat van mening is dat jy al jou geld so gou as moontlik uit die land moet neem teen enige koste. Sommige gaan selfs sover om voor te stel dat indien jy ouer as die ouderdom van 55 is, jy jou aftree annuteite en ander aftree voorsienings wat jy besit laat uitbetaal om weg te kom van regulasie 28 wetgewing se beperkings (wat buitelandse beleggings beperk tot 30%). Dit kan dalk vir sommige mense die regte keuse wees, maar baie mense wat die raad sal volg sal meer in belasting en kostes betaal as wat hulle enige voordeel kry. Baie van die aandele op die plaaslike mark het reeds randsverskansing in as gevolg van hulle buitelandse besigheids aktiwiteite.

In my opinie is daar beide voordele en nadele aan buitelandse beleggings.

Voordele –

  1. Suid Afrika se ekonomie dra tans minder as 0.5% tot die wereld ekonomie by. Dus is daar ‘n baie groter verskeidenheid maatskappye om in die buiteland te belê, wat dan diversifikasie en meer geleenthede bied.
  2. Die inflasie koers van SA is hoër as die van ontwikkelde lande soos die VSA, wat beteken dat ons geldeenheid oor tyd waarskynlik teen geldeenhede met laer inflasie gaan verswak. Dus is daar outomatiese beskerming ingebou teen die verswakking van die Rand

Nadele –

  1. Indien jy ongemaklik is met wisselvallige markte, gaan ‘n buitelandse belegging nie ‘n ‘gemakliker’ opsie wees nie. Buiten die volatiliteit van die aandele waarin jy belê, gaan jy ook blootstelling hê aan wisselvalligheid van ons geldeenheid. Alhoewel die Rand gaan verswak oor tyd (sien vorige punt) gaan die beslis nie ‘n minder wisselvallige belegging wees nie.
  2. Omdat bates versprei word oor die wêreld kan daar ‘n hoër koste aan verbonde wees om geld in die buiteland te belê.

‘n Punt om te maak is dat wisselvalligheid en onsekerheid nie eksklusief ‘n Suid Afrikaanse probleem is nie en dat daar, veral onlangs met die wêreldwye pandemie, in meeste lande redelik baie onsekerheid is en dat die markte dit reflekteer.

Ek dink dit is belangrik om eerder by jou eie doelwitte te begin en te gaan kyk watter bates die beste geposisioneer is om jou doelwitte te bereik nie. ‘n Finansiële beplanner se rol sal wees om jou te help om duidelik jou doelwitte te kan uitlê en die bates in samewerking met portfolio bestuurders in die regte bates te kry wat pas by jou beplanning. Begin by jou plan en pas jou bate allokasie daarby in. Maak seker jy verstaan hoe die verskillende bates in verskillende marktoestande reageer sodat jy weet wat om te verwag en hoe om te reageer indien, soos in 2020, die aandele mark se waarde drasties afneem.

Om af te sluit – stel vas waarheen jy op pad is en maak seker die bates wat in jou portfolio is, plaas jou in ‘n goeie posisie om jou doelwitte te bereik. Indien jy onseker is oor hoe die verskillende markte werk, kry ‘n portfolio bestuurder wat die markte verstaan om dit vir jou te hanteer.

Henri le Grange, April 2021

Scroll to top