Trustaktes kan om verskeie geldige redes gewysig word. Dié wysigings moet aan sekere vereistes voldoen sodat die trustees nie later met onbeplande gevolge, soos ekstra belasting en ongeldige transaksies, te make het nie.
Trusts word al lank gebruik as doeltreffende instrumente in onder meer boedelbeplanning. Net soos dit belangrik is om jou finansiële beplanning gereeld te hersien, moet trustaktes ook gereeld hersien word om seker te maak dit voldoen nog aan die vereistes van huidige wetgewing, gesag en selfs tegnologie.
Trustaktes kan op twee maniere gewysig word, naamlik deur ’n hofbevel of deur die gemeenregtelike reëls van kontraktereg.
HOFPROSEDURE
Die Wet op die Beheer van Trustgoed (Wet 57 van 1998) gee in artikel 13 aan die hof die bevoegdheid om ’n trustakte te wysig as dit bepalings bevat wat gevolge meebring wat, volgens die hof, die bereiking van die oprigter se doelwitte teëwerk, die belange van begunstigdes benadeel of indruis teen die beginsels van openbare belang.
Enige party wat ’n genoegsame belang in die trusteiendom het (byvoorbeeld ’n trustee), mag die hof nader met ’n aansoek om wysiging. Hierdie prosedure word meestal gebruik wanneer die reëls van die kontraktereg nie beskikbaar is nie, soos wanneer die trustakte nie ’n wysigingsklousule bevat nie en die oprigter reeds oorlede is.
Dit kan ook gebruik word wanneer ’n testamentêre trust betrokke is, hoewel die hof slegs in uitsonderlike gevalle ’n testamentêre trust se bepalings sal verander.
KONTRAKTEREG
Die trust kan as ’n kontrak tussen die oprigter en die trustees tot voordeel van die begunstigdes gesien word. Daarom is dit makliker om die reëls van die kontraktereg te gebruik om die trustakte te wysig, veral indien die oprigter nog leef en deel kan wees van die wysiging.
Dit kom daarop neer dat die trustakte gewysig kan word bloot deur die ooreenkoms tussen die oprigter, die trustees en die begunstigdes wat reeds voordele onder die trust aanvaar het. Die wysiging kan plaasvind selfs al is daar geen wysigingsklousule in die oorspronklike akte nie, en indien wysigings uitdruklik in die akte verbied word.
Dit is soms meer prakties om die wysiging aan te bring deur die bestaande trustakte in sy geheel met ’n nuwe dokument te vervang. Volg die korrekte prosedure sodat aan wetlike en ander vereistes voldoen word om te verseker die wysiging is geldig. Let hierop:
Die oprigter moet nie weer ’n skenking aan die trust maak nie. Dit kan geïnterpreteer word dat ’n heel nuwe trust tot stand gebring word, pleks daarvan dat die oorspronklike akte gewysig word. Daar moet behoorlik na die oorspronklike trustakte verwys word om seker te maak ’n wysiging moet inderdaad plaasvind.
Die oprigter, die trustees wat deur die meester van die hooggeregshof aangestel is (waaronder die onafhanklike trustee) en alle begunstigdes wat reeds voordele onder die trust aanvaar het, moet toestem tot die wysiging. Skriftelike toestemming word aanbeveel. Dit kan voorkom dat die wysiging later ongeldig verklaar word.
Wanneer die oprigter nie ’n party tot die wysiging kan wees nie, kan die wysigingsklousule (indien enige) in die trustakte gebruik word. In hierdie geval kan die nuwe trustakte nie wysigings aanbring wat ontoelaatbaar is volgens die oorspronklike akte nie. Die oorspronklike akte moet noukeurig nagegaan word omdat dit bepalings kan bevat wat die wysiging van sekere klousules daarvan verbied.
Indien die oorspronklike akte geen wysigingsklousule bevat nie, kan ’n hofaansoek oorweeg word.
GEVOLGE
Raadpleeg ’n kundige op die gebied van trustreg wanneer trusts en die wysiging van ’n trustakte ter sprake kom sodat onbeplande gevolge vermy kan word, waaronder die ongeldigheid van trusttransaksies en nadelige belastinggevolge.
Indien jou trustakte onlangs gewysig is, is dit raadsaam om seker te maak dat die wysiging korrek gedoen is om ongewenste gevolge te voorkom. Indien nie, is dit dalk tyd vir ’n behoorlike trust- oudit.
Artikel geskryf deur Maryke Marais is ’n regsadviseur by Old Mutual.
Die artikel is oorspronklik geplaas in Landbouweekblad op 23 Oktober 2020. Plasing met toestemming van skrywer gedoen.